Wie is die 144,000 in Openbaring?

“En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. (2) En ek het ‘n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van ‘n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters. (3) En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is. (4) Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. (5) En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” (Openbaring 14:1-5)

Hoofstuk veertien van die Openbaring aan die apostle Johannes bevat ‘n visioen van ‘n honderd vier en veertig duisend metgeselle van die verheerlikte Jesus. Dié is van die aarde vrygekoop, het hulself “met vroue nie besoedel nie” en is “maagdelik rein”. Vroeër, in hoofstuk 7, sien ons dat dieselfde honderd vier en veertig duisend verseël is, die toorn van God vryspring, en dat hulle saam met “‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” voor God se troon in die hemel verskyn.[1]

Vertolkingsriglyne

Die Nuwe Testament gebruik as beeldspraak en verwysingsraamwerk die ou-Testamentiese Wet en geskiedenis.[2] Dit vereis dat ons terugkyk na ou-Testamentiese gebruike en gebeure om die betekenis van nuwe-Testamentiese geskrifte te bepaal. In die teks uit Openbaring veertien, is daar binne sewe verse ten minste tien verwysings of beelde van hierdie aard – die eerstelinge van God (Jer. 2:3), die ‘vrykoop’ of verlossing (Eks. 6:6), die berg Sion (Jes. 35:10), die tal van Israel (Num. 1:17 e.v.) en ‘n naam of merk op die voorkop aangewend (Eseg. 9:4), onder andere.

Die Nuwe Testament eis verder die volmaaktheid te wees van dit wat in die Moseswet slegs as ‘n vooraf aanduiding of skadu van ‘n uiteindelike realiteit gedien het.[3] Gevolglik is dit ook moontlik dat dit die nuwe-Testamentiese vervulling of verwesenliking is, wat met die verwysing na ou-Testamentiese gebruike en gebeure bedoel word.

Bowendien is alle profetiese geskrifte ryk aan beeldspraak en simboliek, en ‘n suiwer letterlike interpretasie is dikwels ongepas. “Die dinge van die Gees van God … kan [die stoflike mens] nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” [4]

Hierdie riglyne word dan by die vertolking van die honderd vier en veertig duisend toegepas.

Die doel van die Openbaring

Die Openbaring aan Johannes is klaarblyklik gegun om die getroue volgelinge van Christus te troos en te bemoedig ten tye van ‘n amper ondraaglike vervolging. Vervolging was algemeen sedert Jesus se wederopstanding en duur steeds voort, maar word kort na die skryf van Openbaring in uitermatige wreedheid en naarstigheid, deur die Romeinse keisers Nero en Domitian uitgevoer.[5] In Palestina verklaar die rabbis ‘n boosaardige krygsman, Bar Kohba, as messias, en so word die Christen Jode wat hom onteien gedood vir hoogverraad.[6]

Johannes se visioen neem God se oordeelsplan in oënskou. Gesien uit die ewigheidsperspektief is die martelaars verseël, gereinig deur die bloed van die Lam en sekuur in God se teenwoordigheid, terwyl vlaag op vlaag van God se toorn op die wêreld uitgestort word en dan in ‘n finale oordeelsdag kulmineer.

Die skrywer van Psalm 73 bely:

“Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is. Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig … toe ek die voorspoed van die goddelose waarneem … Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hand in onskuld gewas. Die hele dag is ek geslaan, en my tugtiging was elke more … Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan, en op die goddelose se einde gelet het. Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.” [7]

Dit is die juiste slotsom van Psalm 73, wat Johannes se Openbaring op die gelowige afdwing. In die tydelike en verganklike wêreld lyk dit asof die Here se vyande hul stryd teen Sy volgelinge vermag; terwyl die gelowige se lyding, vanuit die ewigheidsperspektief, eintlik van korte duur is.[8] Selfs die dood kan hom nie oorwin nie, “want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek”. [9]

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus? Verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos dit geskrywe is: Om U ontwil word ons heeldag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons lief het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons sal kan skei van die liefde van God wat in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rom. 8:35-39)

Christus bemoedig die gelowiges: “moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel”.[10]

Israel die eersteling

God se doel van die fundasies van die skepping is om vir Sy eie heerlikheid, ‘n aantal van die mensdom te win, met Homself te vereenselwig, en dan in die volmaaktheid en voldoening van Sy liefde, met hulle in die ewigheid saam te leef.

Die Here se plan word in fases uitgevoer. Eers word die nakomelinge van Abraham deur middel van die Sinai verbond, naby aan God gebring. Later word die vervulling van die Moseswet in Christus en sy Evangelie openbaar, en God se versoeningsaksie brei uit tot alle volke.

Ou-Testamentiese Israel word dus as God se ‘eerstelinge’ beskryf:

“Israel was vir die HERE ‘n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings…” [11]

Die getroues onder Israel word later as die Here se ‘dienskneg’ aangesê, om as “‘n lig vir die nasies” te dien, “sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.”[12] Die taak word deur die getroue oorblyfsel van Israel, naamlik die Joodse apostels van die Here Jesus, vermag. So volg daar op die vermelding van die honderd vier en veertig duisend in Openbaring veertien, “‘n engel (boodskapper) … met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke…”. [13] Op hierdie wyse dan, word die “groot menigte” gewerf, wat in Openbaring 7 by die honderd vier en veertig duisend aansluit.

Verlossing

Deur die voorsiening aan elke Joodse huisgesin van ‘n paaslam, en die aanwending van sy bloed, word Israel op simboliese wyse uit Egipte vrygekoop. Die nasie bestaan dan vir ‘n duisend jaar onder die Moseswet, voordat die ware “Lam van God” verskyn.

Die verlossing uit Egipte skep die verwagting van ‘n verdere, uiteindelike verlossing,[14] maar dié is in teenstelling met die algemene begrip van die Jode, nie ‘n verlossing uit die onderdrukking van die heiden nie, maar eerder uit die beheer van die Sonde wat die mens van versoening met God weerhou, en die perfekte samelewing waarin God se wil alleen geskied, verhoed.

Die uiteindelike verlossing wat Jesus aan die kruis vermag is nie net vooruitwerkend nie, maar ook terugwerkend. Ook vir Abraham, Isak en Jakob, het Jesus gesterf – en vir hulle nageslagte wat getrou aan God en in afwagting van die Saligmaker in die ou-Testamentiese tydperk geleef het. Jesus word beskryf as die ‘eens vir almal’ offergawe[15] wat deur Sy kruisdood ook ‘n vervloeking onder die Moseswet geword het, om die wat onder die Wet gesondig het, vry te koop.[16]

Ten tye van Jesus se dood, het dus “die grafte … oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná Sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn”.[17] Dieselfde ontslapenes uit ou-Testamentiese Israel is waarskynlik onder die getal wat in Openbaring 14 “as eerstelinge vir God en die Lam” voor die hemelse troon verskyn.

Die voltal

In Openbaring 7 word die samestelling van die honderd vier en veertig duisend ontleed, en as twaalf duisend uit elk van die twaalf stamme van Israel benoem.

“En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig (3) en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie. (4) En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel (5) uit die stam van Juda twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalf duisend verseëldes; (6) uit die stam van Aser twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalf duisend verseëldes; (7) uit die stam van Símeon twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Issaskar twaalf duisend verseëldes; (8) uit die stam van Sébulon twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalf duisend verseëldes.”

Dié getal word beskryf as “uit die aarde vrygekoop”. In die profetiese geskrifte verwys ‘aarde’ dikwels na die land van Israel, terwyl daar na die heiden lande as die ‘see’ of ‘eilande’ verwys word.[18] Deurgaans in Openbaring word dieselfde onderskeid gehandhaaf – klaarblyklik omdat beide God se reddings- en Sy oordeelsplan eers met die ou-Testamentiese verbondsvolk afhandel: “… aan die wat eiesinnig is en aan die waarheid ongehoorsaam … is grimmigheid en toorn … oor die Jood eerste en ook oor die nie-Jood; maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood eerste en ook vir die nie-Jood” (Rom. 2: 9-10).

Die unieke oordeelsdag vir die Jood word veertig jaar na Christus se dood in die verwoesting van Jerusalem en haar Tempel vermag. Met dié slag word Israel ondermeer van die vermoë om bloedoffers op die altaar te bied, ontneem, en so ook verhoed om voortaan in gehoorsaamheid aan die Moseswet voort te bestaan.

Al die profete waarsku die volk oor hierdie dag.[19] Johannes die Doper, voorganger van die Messias, vra die Fariseërs en Sadduseërs, “wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan die kom is?” [20]

Die Here Jesus waarsku die Jode wat hom verwerp het: “Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die onskuldige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.”[21]

Die Joodse historikus, Josefus, beskryf die omstandighede wat veertig jaar later tydens die verset van Jerusalem geheers het:

“Die grote menigte [wat in Jerusalem vasgevang is] was inderdaad uit ‘n wye omtrek versamel [weens die feit dat die volk as geheel tydens Paasfees in die stad aanmeld, om paaslammers op die altaar te slag, en die Romeinse troepe juis op hierdie tydstip die stad omsingel] … maar die hele nasie was nou, soos dit op haar bestem is, ingehok soos gevangenis, en die Romeinse leër het die stad omsingel terwyl sy gewemel het met inwoners. Gevolglik het die menigte wat daar gesterf het, alle verwoesting oorskry wat die mens, of dan God Self, ooit tevore oor die wêreld gebring het.” [22]

Tog is die voltal van die wat uit die ou-Testamentiese verbondsvolk aan die Skepper versoen is, ten tye van dié gebeure reeds bevestig. Twaalf duisend uit elke stam is waarskynlik simbolies. Ou-Testamentiese Israel is volledig in sy twaalf stamme, en elke stam is simbolies voltallig in twaalf duisend lidmate. Die honderd vier en veertig duisend is ‘n volmaakte syfer waarin ‘n honderd vier en veertig die kwadraat van twaalf is, en die duisend bestaan uit tien tot die derde mag.[23] Die beginsel wat in die volmaaktheid van die syfer uitgebeeld word is juis dat die Here Jesus nie een sal verloor uit al die wat die Vader hom gegun het nie.[24]

Weens die feit dat nie net die straf nie, maar ook “heerlikheid en eer … vir die Jood eerste” gegun is, word die honderd vier en veertig duisend dus afsonderlik uitgebeeld in Openbaring sewe en veertien.

Die verseëldes uit Israel

Dié oordeel van 70 n. C. vind in Israel se vroeëre geskiedenis ‘n voorskou. Die eerste verset van Jerusalem en Tempelstoring gebeur onder die heerskappy van koning Sedekía ten tye van die Babiloniese ballingskap. Ook in daardie tyd word God se getroues bemoedig deur profetiese uitsprake. Onder andere, sien Esegiël ‘n visioen van ‘n engel wat die Here se uitverkorenes op die voorkop merk en teen Sy oordeel beskerm, wat hy soos volg uitbeeld:

“Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het. En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word. Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.” (Eseg. 9:3-6)

Deur die doelbewuste verwysing na Esegiël 9, word die beginsel van hierdie teks op alle geslagte van die ou-Testamentiese verbondsvolk toegepas, naamlik dat die Here ‘n onderskeid tref tussen die getroues en ontroues onder die wat skynbaar Sy volk of Kerk is, dat nie elkeen wat homself met dié identifiseer, gered is nie, maar eerder, “dat die oordeel moet begin by die huis van God”.[25] “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat Syne is”.[26]

Verdere vrug en opbrengs deur die evangelie

Soos ons reeds opgemerk het, word daar ná die honderd vier en veertig duisend, in Openbaring veertien na die verspreiding van die evangelie verwys, en in Openbaring sewe na die vrug daarvan.

“En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” (Op. 14:6)

“Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Op. 7:9-10).

‘n Groter menigte word tydens die nuwe-Testamentiese verbondstydperk ingesamel. Dié sluit afstammelinge van die Jode ook in, want die Here strek Sy genade in die tydperk uit aan enige een wat die naam van Jesus aanroep, en deur geloof in Hom vergifnis van sondes verkry. Dus word die “ewige evangelie” beide aan die “bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke” verkondig.[27] Voor die Here Sy oordeel oor ou-Testamentiese Israel uitvoer word die oorblyfsel bevoeg en bekrag deur die uitstorting van die Heilige Gees, om God se verdere reddingsplan vir hulle eie landgenote en ook vir die ander volke en nasies, uit te voer. So het die profeet Joël dit ook vooruitgesien:

“En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en vreeslike dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar uitkoms wees soos die HERE gesê het, en onder die wat gered is die wat die HERE sal roep.” (Joël 2:29-32)

Die seël van die nuwe verbond is die Heilige Gees:

“Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.” (Efe.1: 13-14, NV)

Uit die nuwe verbond is daar uiteindelik ook ‘n voltal,[28] maar die getal is onbepaald sedert die tydstip waarop die nuwe-Testamentiese bedeling tot ‘n einde kom, nie aan enige mens, of engel, selfs nie aan Christus Jesus bekend is nie.[29]

Onbesoedel en rein in God se teenwoordigheid

“En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is. Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam” (Op. 7:3-4).

Die huwelik tussen ‘n gelowige man en ‘n gelowige vrou word deurgaans in die ou- en nuwe Testamente geseën en as heilig beskou.[30] Die enigste verbod op intieme verkeer tussen getroudes is die aan die voet van die berg Sinai, waar die ganse gemeenskap van Israel in voorbereiding vir God se verskyning, aangesê is om hulself te weerhou.[31] Dié is ‘n tydelike verbod wat slegs vir daardie tydperk geld.

Tog is alles wat tussen geboorte en die dood geskied, vir die mens in sy verwydering van God, ‘n vervuiling. Die boodskap wat die reinigingsvoorskrifte van die Moseswet uitbeeld, is dat die ganse lewe onrein is tot en deur die verlossing wat Christus Jesus vermag.

“En as daar van ‘n man ‘n saadvloeiing uitgaan, moet hy sy hele liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein. En wat die vrou aangaan met wie ‘n man vleeslike gemeenskap het albei moet ‘n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees. En as ‘n vrou ‘n vloeiing het, en die vloeiing in haar vlees bloed is, dan bly sy sewe dae lank in haar onreinheid; en elkeen wat aan haar raak, sal tot die aand toe onrein wees. En alles waar sy in haar onreinheid op lê, sal onrein wees; en alles waar sy op sit, sal onrein wees. En elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein. En elkeen wat raak aan enige voorwerp waar sy op sit, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein; en as daar iets op die bed is of op die voorwerp waar sy op sit, as hy dit aanraak, sal hy tot die aand toe onrein wees. En as ‘n man met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees; en elke bed waar hy op lê, sal onrein wees. En as ‘n vrou lank ‘n bloedvloeiing het, buiten die tyd van haar onreinheid, of as sy vloei oor die tyd van haar onreinheid, moet sy gedurende al die dae van haar onreine vloeiing wees soos in die dae van haar maandelikse onreinheid; sy is onrein.” (Lev. 15:16-25)

Die Moseswet voorsien deur sy reinigingsvoorskrifte slegs ‘n tydelike behoud vir die mens in sy vervalle toestand, en nie ‘n teenmiddel vir daardie toestand nie. Dat Christus die bestemde teenmiddel is verskyn onder andere in hoofstuk 8 van die Lukasevangelie, waar ‘n vrou wat twaalf jaar bloeiend was, genees word deur die soom van die Here se kleed aan te raak. Waar Jesus volgens die aanwysing van die Moseswet deur dié daad vervuil sou wees, is daar duidelik niks wat die Christus kan vervuil nie, en dit is eerder die Here se reinheid wat die vrou reinig en van haar kwaal verlos.

Dit is verder duidelik uit die Here se aanklag teen die Fariseërs – “die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God”[32] – dat dit nie die is wat uit eiegeregtigheid hulself van sonde weerhou het nie, maar eerder die wat deur die Saligmaker aangeraak is, wat God as rein beskou. So sê Paulus ook aan die kerk: “ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een bruidegom verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel”.[33] Die maagdelikheid van die Christen is dus nie ‘n oorspronklike ongeskonde toestand nie, maar die voltooide werk van die Heilige Gees, wat tot ‘n nuwe skepsel aanlei.

Die onderskeid tussen die honderd vier en veertig duisend uit ou-Testamentiese Israel en die “groot menigte” uit die nuwe verbond, word dus verder gehandhaaf deur die reinheid van die eerste groep simbolies op die weerhouding van seksuele omgang te vestig,[34] terwyl die reinheid van die tweede groep daaraan te danke is dat hulle met wit linne deur die Lam beklee is.

In ieder geval, die onrein kan nie die teenwoordigheid van die Heilige God betree nie.[35]

Samekoms op die Sionsberg

Die berg Sion is uit Israel se geskiedenis die eindbestemming van die nasie in haar besit van die Beloofde Land. Na Koning Dawid se oorwinning van dié vesting word Jerusalem die hoofstad van die verenigde stamme van Israel,[36] en word die Tempel daar gebou.

In teenstelling, verteenwoordig die berg Sinai die vertrekpunt in Israel se versoeningstog, met allerlei versteurings en versperrings[37] wat die verwydering tussen Israel en God op daardie tydstip beklemtoon. Dié verwydering word ook in die ontwerp en geloofspraktyk van die Tempel weerspieël. Hier word toegang tot God beperk deur skeidings tussen die verskeie afdelings te plaas, waarvan ook die swaar gordyn tussen die binnehof en die ‘Heiligste van die heiligdom’, almal behalwe die Hoë Priester weerhou van toegang. Dié kon een maal ‘n jaar, op die Versoeningsdag, met die voorgeskrewe bloedoffer in God se teenwoordigheid verskyn.[38]

Tydens Christus se kruisdood het, “die voorhangsel van die tempel … in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan”.[39]

Dit is dus die Verlosser self wat die gaping tussen die mens en God oorbrug, deur die vergifnis van die Sonde wat die mens se verwydering van God voortsit, en die reinigings- en vernuwingsproses wat die Heilige Gees in die mens se siel bewerk.

In die Hebreërsbrief word Sion dus met die berg Sinai gekontrasteer:

“Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie— want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder. Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprinkeling wat van beter dinge spreek as Abel.” (Heb 12:18-24)

Die gelowige het die voet van die berg reeds bereik, en leef in afwagting van die finale oordeelsdag, waarna die nuwe hemel en die nuwe aarde sy eiendom word.

“En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal Sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” (Op. 21:3-5)

Dit is dan die eindbestemming van die gelowiges van alle eeue wat in ‘n oomblik aan Johannes op die eiland Patmos getoon word en in hoofstukke sewe en veertien o.a. van Openbaring aan ons oorgedra is: die volmaking van die skepping en die kulminasie van die versoeningswerk van God.

‘n Nuwe lied verwys volgens die gebruik van die Psalms,[40] na die spontane gejubel van die Here se geliefdes wanneer Hy ‘n wonderlike oorwinning vermag. Die oorwinning van die kruis is tragies “dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God,”[41] en dus kan slegs die wat die verlossing reeds ervaar het, in die lofsang van Openbaring veertien deelneem:

“En dáár sal ‘n grootpad wees en ‘n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop loop nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel—selfs die dwase sal nie daar kom nie. Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die wat verlos is sal daarop wandel; en die vrygekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug sal verdwyn.” (Jes. 35:8-10)

[1] Openbaring 7:1-17.

[2] Sien 2 Kor. 10.

[3] Kol. 2:16-17.

[4] 1 Kor. 2:14.

[5] International Standard Bible Encyclopaedia, ‘Roman Empire and Christianity’.

[6] Daniel Gruber, Rabbi Akiba’s Messiah: The Origins of Rabbinic Authority, Elijah Publishing, Hanover NH, 1999.

[7] Verse 1-3, 13, 14, 16-18.

[8] Rom. 8:18 e.v., 2 Kor. 4:17.

[9] 2 Kor. 4:14.

[10] Mattheus 10:28.

[11] Jeremia 2:3. Sien verder Eksodus 4:24.

[12] Jesaja 49:6, Handelinge 13:47.

[13] “…Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Vergelyk Handelinge 17:24-31.

[14] Exodus Rabba 15:11,

[15] Heb. 10:10, 11:39-40.

[16] Galasiërs 3:13.

[17] Mat. 27:53.

[18] Sien o.a. Jes. 9:19, 13:9, 24:15,49:1. Eseg. 26:16, Dan. 7:3.

[19] Deut. 4:26, Joel 1 – 2, Amos 5, Sef. 1-2, ens.

[20] Mat. 3:7.

[21] Mat. 23:34-36.

[22] Josefus, “War of the Jews”, Boek 6, Hoofstuk 9, para. 4. Eie vertaling.

[23] Vir die simboliek en betekenis van die syfers, sien in die ISBE die inset ‘numbers’.

[24] Johannes 6:39.

[25] 1 Pet. 4:17.

[26] 2 Tim. 2:19.

[27] Die verwoesting van die Tempel is die terminus van die ou-Testamentiese verbond en verbondsvolk, waarna slegs geloof in Jesus versoening aan God te weeg bring – vir beide Jood en nie-Jood.

[28] Rom. 11:25.

[29] Mat. 24:36.

[30] Die ongehude sendeling word as ‘n ideaal beskou wat slegs deur ‘n bonatuurlike gawe moontlik is. Sien 1 Kor. 7.

[31] Eks. 19:14-15.

[32] Mat. 21:31.

[33] 2 Kor. 11:2.

[34] As toegang tot die 144 000 in Opebaringe ‘n letterlike en algehele verbot op seksuele omgang vereis, dan is onderskydelik nie Abraham, nie Isaak, nie Jakob, nie Moses en nie Koning Dawid onder dié getal ingereken nie.

[35] Op. 21:27.

[36] 2 Samuel 5:6-7.

[37] Eks. 19:12-18.

[38] Heb. 9:7-8.

[39] Mat. 27:51-52. Sien verder Heb. 10: 19-22.

[40] Psalms 33, 40, 96, 98, 144 en 149.

[41] 1 Kor. 1:18.